


Die skrywer en motiveringspreker bekend as Left Sleeve sal op Vrydag 6 September om 19:00 in die Lettie Fouché Lapa Bloemfonteiners saam op sy reis van hoop en liefde neem.
In sy vertoning, met die naam Vir Altyd, wil Left Sleeve fokus “op die feit dat ons deur sekere ‘ups’ en ‘downs’ by die eindresultaat van Vir Altyd uitkom”.
“Partykeer vergeet ons dat Vir Altyd die doel is wanneer ons, ons sielsgenoot soek,” het hy bygevoeg. “Ons vergeet partykeer dat ons sielsgenoot die eindresultaat van Vir Altyd moet wees en ek wil graag saam met die gehoor in ’n kort tydjie in Vir Altyd stap.”
Volgens Left Sleeve kan die gehoor ’n emosionele “rollercoaster” verwag terwyl hulle na sy stories luister.
“Ek wil al lank in Bloemfontein optree,” het hy vertel. “Daar is mense van Bloemfontein wat my reg van die begin af volg, en ek kan nie wag om voor hulle te sit nie. Bloemfontein het ’n spesiale plek in my hart en ek is bitter opgewonde om hulle in die oë te kyk.”
Die skrywer se skuilnaam, en die een wat hy verkies, het ’n interessante agtergrond. “My linkerhand is my kreatiewe hand. Omdat ek in ’n ongeluk was net voordat ek gebore is, het ek minimale gebruik in my regterkant,” het Left Sleeve vertel.
“My regterkant is wat my aan die lewe hou, want dit is die seëning wat gemaak het dat ek nie heeltemal in my gewoontes van oud verval nie,” het hy vertel. “Dus is my linkerhand die een wat ten toon gestel word sodat hy altyd my regterhand kan beskerm.”
Verder vertel hy ook dat die “sleeve” inkom omdat hy sy emosies op sy mou dra.
Left Sleeve sluit af: “Ek skryf vir almal, ek skryf vir niemand nie. Ek skryf oor almal, ek skryf oor niemand nie. Hierdie is slegs een man se dagboekinskrywings en ek deel graag my dagboekinskrywings met jou.”
Kaartjies vir sy vertoning is R150 per persoon, en beskikbaar by Computicket.
Warren Hawkins
https://www.bloemfonteincourant.co.za/left-sleeve-kom-bloem-toe/